Elke Huis is ‘n Huis van Gebed
(vergadering van uitgeroeptes)
Eksodus 25 vers 8
“Hulle moet ook vir my ‘n afgesonderde plek maak sodat ek tussen hulle kan bly volgens alles wat Ek jou gaan wys”
Toe God hierdie Woord tot Moses gespreek het was die fokus op die HERSTEL van ‘n lewende verhouding MET HOM, net so het God verklaar deur Jesaja dat Sy Huis ‘n huis van gebed is.
Jesaja 56:6
“Ook aan die vreemdelinge wat hulle by יהוה (Vader God) voeg, om Hom te bedien en om die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה(Vader God) lief te hê, om Sy diensknegte te wees, elkeen wat hom weerhou om die Shabbat te onteer en onveranderlik vashou aan My verbond”,
Jesus, die Seun van God het in liefde gekom om die Woord in vervulling te bring en sodoende hierdie verhouding te herstel. Daarom het Hy by die tempel die geldwisselaars en die mense daaraan herinner dat Sy Vader se Huis, ‘n Huis van Gebed is.
Jesus het daarna die fariseërs uitgedaag om die tempel as gebou af te breek en gesê dat Hy dit sal herbou in drie dae. Hierdie gebou wat herbou sal word, was nie ‘n fisiese gebou nie, maar die liggaam van Christus. Ons as gelowiges in Jesus Christus, word as “n afgesonderde tempel herbou as blyplek vir God, ‘n huis van gebed.
Jesus het dit volbring deurdat HY DIE OFFER geword het vir ons sonde en deur Sy bloed, ons deel gemaak het van die Nuwe Verbond.
Jesus as ons Hoëpriester, het voldoen aan al die vereistes van die bloudruk-plan van die tabernakel sodat ons in Sy Naam met vrymoedigheid tot ons Hemelse Vader kan kom. Paulus bevestig dit in Efesiërs 2:20-22
Julle word opgebou op die fondasie van die afgevaardigdes en die profete, met Yeshua (Jesus) Die Gesalfde Een, self die Hoeksteen van die gebou. In Hom word die hele gebou aanmekaar gesit en dit groei tot ’n afgesonderde tempel in eenheid met יהוה (Vader God)terwyl julle ook vir Hom gebou word tot ’n blyplek van God in die Gees.
Hoe word ons deel van ons Vader se Huis as huis van Gebed?
Ons moet ‘n afgesonderde plek wees, wat beteken, met verwysing na God se Woord in Jesaja 56:6, “elkeen wat hom weerhou om die Shabbat te onteer en onveranderlik vashou aan My verbond,”. Dit beteken ons moet vashou aan God se Verbond en NIE DIE RUS (vertroue in Jesus as die Weg, die Waarheid en die Lewe) ONTEER NIE. Heb.4:9 & 10 praat van ‘n sabbatsrus en dit beteken ‘n hartsrus elke oomblik in Vader God!
So het Jesus in Mattheüs 7:24-25 gesê:
Elkeen wat daarom na hierdie boodskappe van My luister en dit doen, sal vergelyk word met ’n wyse man wat sy huis op ’n soliede rots bou en die reën het geval en die waterstrome het aangestorm en die winde het teen daardie huis gewaai en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die soliede rots. So ook het Jesus vir Petrus gesê in Matt 16:18 Op Hierdie Rots (openbaring van Jesus as die Seun van die Lewende God) sal Ek My vergadering van uitgeroeptes (eersgeborenes) bou en die hekke van Sh’ol (doderyk) sal nie daarteen kan staan nie.
Die kraletjie huisie (foto) is ‘n simboliese uitbeelding van ‘n huis van gebed

Die Weg
Die GRYS staan vir Jesus is die Rots die Woord wat lewend geword het en is die fondasie waarop ons die Huis van Gebed bou. Die rots is die kennis van Jesus Christus as die Seun van die Lewende God soos in Matt.16:18. Die GEEL staan vir die Woord, die getuienis van die oorwining wat Jesus VIR ONS behaal het, sodat ons kan lewe en IN HOM LEWE IN OORVLOED KAN HÊ
Die Waarheid
Paulus wys daarop in 1 Korinthiërs 3 dat daar geen ander fondasie gelê kan word as wat gelê is in Jesus Christus nie, maar dat ONS VERANTWOORDELIK IS VIR DIE BOUWERK, en dat
ons bouwerk deur die vuur getoets sal word.
Jesus het ook vir die dissipels gesê in Johannes 6:29: “Dít is die dienswerk van God, dat julle in Hom, wat Hy gestuur het, vertrou.” Die twee figure in die kraletjie huis verteenwoordig die bouwerk en dat ons bou op grond van die waarheid van die Woord, en ons knieë buig in vertroue en erkenning dat Jesus die Seun van die Lewende God is.
Ons gebed van vertroue fokus op Jesus en Sy vermoë, wat belowe dat Hy, waar 2 of meer in Sy teenwoordigheid kom in ons midde is! Die KRUIS IS DUS VERTEENWOORDIGEND VAN JESUS IN ONS MIDDE waar ons tot God die Vader kom in die Naam van Sy Seun Jesus Christus. So kyk ons na mekaar deur die kruis van Jesus en fokus nie op mekaar se foute nie, maar op wat Jesus vir ons gedoen het.
Die Lewe
Die lewe word in die kraletjie huisie verteenwoordig deur die dak. ‘n Huis sonder ‘n dak het geen waarde nie, aangesien dit geen beskerming bied nie. Wanneer twee saambid in Jesus se Naam en die Vader ons antwoord deur Sy Heilige Gees, is die Huis volledig soos bevestig in
1 Johannes 1:2-3
Die Lewe is openbaar en ons het gesien, ons getuig van en verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons openbaar is. Hy vir Wie ons gesien en gehoor het, openbaar ons ook aan julle SODAT JULLE OOK GEMEENSKAP MET ONS KAN HÊ EN ONS GEMEENSKAP IS MET DIE VADER EN MET SY SEUN, YESHUA, DIE GESALFDE EEN.
Stuur ‘n epos aan faith@prepare-the-way.co.za
